Wian Taljaard, ‘n oud-skolier va Hoërskool Cradock en tweede-jaar dramastudent aan die Universiteit van Stellenbosch, was gedurende die US Woordfees in die produksie “Vlerke vir almal” te sien.  Die roman is geskryf deur Marion Erskine en die verhoogteks is deur Vicki Davids, wat ook die regisseur van die verhoogproduksie was, verwerk.

Die tema van die stuk is baie aktueel en spreek tot alle lede van die gehoor.  Afknouery, seksualiteit asook kuberboelie word onder andere aangespreek.  Wian deel die verhoog met Lean Kruger, Leana Dreyer, Banele Mthembu, Mia van der Merwe, Maria Strauss en Sithembele Zugu.  Hy vertolk die hoofrol van Dewald, ‘n sewentienjarige seun wat ‘n spraakgebrek ontwikkel nadat sy beste vriendin selfmoord pleeg as gevolg van ‘n kuberboelie.  Wian, ‘n oud-skolier van Hoërskool Cradock, vertolk Dewald as ‘n weerloose karakter en maak hom eerlik en geloofwaardig.  Die gehoor is saam met hom emosioneel en Wian slaag daarin om die gehoor te oortuig van werklike hartseer, blydskap en hoop.

Wanneer die groep vriende besluit om ‘n plan te maak om afknouery en boelie by die skool vir eens en vir altyd uit te roei, kry die hoofkarakter ook sy “vlerke”.  Die akteurs het na al vier vertonings staande ovasies van die gehoor ontvang vir hul skitterende en opreg eerlike spel.

Dit is wonderlik om te sien hoe oud-skoliere van ons klein Karooskool hul roeping vind en terdeë geniet.  Die Kwagga-familie wens Wian baie geluk met die sukses wat hy tot dusver ervaar het.  Ons glo dat daar nog groot hoogtes op hierdie begaafde jong akteur wag.

Op die foto bo:

Wian Taljaard, oud-skolier van Hoërskool Cradock, saam met mede-aktrise Leana Dreyer.  Wian het tydens die US Woordfees die hoofrol vertolk in “Vlerke vir almal” en staande ovasies ontvang by feesgangers.