Drie leerders van Hoërskool Cradock het die afgelope maand deelgeneem aan die United World Karate South Africa se Ope Kampioenskap in Port Elizabeth.

Tydens hierdie kompetisie het Willem Karsten, Shané de Waal en Ian Schoeman goeie uitslae gelewer in die Kumitei en Kata afdelings. Kumitei handel oor vegkuns terwyl Kata die demonstrasie van bewegings behels.

Willem Karsten neem deel in die o.15 tot o.17 wit- tot persbelt kategorie en wen silwer vir beide sy Kumitei en Kata. Shané de Waal neem in dieselfde afdeling deel en behaal ‘n brons medalje vir haar Kumitei terwyl Ian Schoeman deelneem in die o.15 tot o.17 rooi tot swartbeld kategorie en met goeie uitslae beloon word.

Beide Shané en Ian neem saam met oud-skolier Sas Swart deel aan die Span-Kata, eindig algeheel in die tweede plek en ontvang elkeen ‘n silwer medalje.

Karate is ‘n sportsoort wat leerders na-ure beoefen, een wat deursettingsvermoë en vasberadenheid verg. Hoërskool Cradock is baie trots op hierdie leerders. Hul prestasies is weereens ‘n bewys is dat niks sonder moeite moontlik is nie. Knap gedaan Kwaggas!

Op die foto bo:

Twee leerders en een oud-skolier van Hoërskool Cradock neem deel aan die onlangse United World Karate South Africa se Ope Kampioenskap in Port Elizabeth, waar hulle ‘n silwer vir hul span-Kata ontvang.  Hier is Ian Schoeman (voor), Sas Swart (oud-skolier, middel) en Shané de Waal (agter) in aksie te sien.