Hoërskool Aliwal-Noord het twee nuwe onderwysers aangestel, Me Ané Van Rooyen en Mnr Etienne von Gericke. Juffrou Ané het haar skoolloopbaan voltooi te Welkom Gimnasium. Sy sê sy is lief vir die onderwys omdat dit haar die geleentheid gee om haar liefde vir kinders uit te leef en sodoende ook ‘n verskil in hul lewens te kan maak. Haar stokperdjies is om doenig te wees met “Arts and Crafts” en sy geniet dit ook om te oefen. Haar lewensfilosofie is, “Hou jou oë op die sterre maar hou jou voete op die grond.” Toe sy gevra is om haarself in drie woorde te beskryf, was haar antwoord: “Anders as almal.” Dit is presies hoe mens haar kan opsom. Met haar entoesiasme en liefdevolle natuur gaan sy nog diep spore trap in Alie-land. Baie welkom by die span, Juffrou Van Rooyen.

Rugby-liefhebbers sal opgewonde wees om te hoor dat Etienne von Gericke se hart Rugby klop! Hy is ‘n oud-leerling van Hoërskool Goudveld in Welkom waar sy liefde vir Rugby begin het. Sy gunsteling vak op skool was Ingenieursgrafika en hy sê as hy enige vak kon aanbied sou dit Besigheidstudies wees. Sy lewensfilosofie is ‘maak nie saak wat die lewe mag bring nie, ‘n mens moet opstaan en opdaag daarvoor en nooit gaan lê nie.’ Meneer von Gericke se vriendeike geaardheid en liefdevolle natuur laat ‘n mens sommer vinnig op jou gemak voel. Alhoewel hy ‘n groot Bloubul ondersteuner is, is die skool nietemin baie opgewonde om hom te verwelkom by ANHS.

“Ons hoop dat ons nuwe onnies baie gelukkig sal wees by ANHS!”